Donderdag, Januarie 11, 2018

Vergete Afrikaanse gedigte #4



Die land het teveel
aan ryk boere met Ford
en Fordson te veel halfgeleerde sportiewe studente
studeer aan te veel universiteite met te veel sosiale personeel
te veel is die somerdae en te kort
is die winters dun is die herfs vals die lente.

Die land het te veel binneland te veel olifant en leeu
en te min watervoëls te min mere en koue poel
met swane niks steur
die voetbalson nie as hulle vleis braai sneeu
dit nooit geen mis spoel
soos melk teen die ruite nie geen sprokies gebeur

in woude nie. Daar is te veel koerante
en koerantsterre soos hoere en moordenaars
te veel onmonargale koninginne en trompoppies
te veel annalante joollieste te veel sonnante
mercedese te veel minnaars
en ministers met hulle adjunkte en ander snoppies.

Daar is te min skilderye en boeke
en te min koue en kaggelvuur maande aanmekaar
skyn die son daar is geen verbeeldingryke ommekeer
van seisoene en menings nie geen donker hoeke
teen storms nie te min storms te ver uitmekaar
lê hemel en aarde met tussenin te veel mooi weer.


-TT Cloete

Woensdag, Januarie 10, 2018

Vergete Afrikaanse gedigte #3



Begelei my, my metgesel,
tot by die ysterspoor
waar die nagtrein
met nuwemaan
weldra verby sal gaan.

Vertoef ’n rukkie daar
tot die skemer my opslurp
en die mure soos skimme
verdof en verdwyn het
by die oorval van die nag.


-Hendrik Januarie



Maandag, Januarie 08, 2018

Vergete Afrikaanse gedigte #2

Dirk Opperman en Breyten Breytenbach is uit twee verskillende geslagte en wêreldaanskouings. Breyten het die winter voel kom van die begin af, hy was aan die sterf vandat hy twintig was, ongemaklik met alle vorms van mag deel - die bekyker met sy kuns en sy eerlikheid.  "So eensaam soos 'n penis".

Opperman was gemaklik met gemak en oop vir alles wat hom gekielie het. 'n Binnestaander, "rymer van die Republiek". Hy was van Wyk Louw se groot gelyke, maar ook bly oor die koms van die Sestigers en nuwe vars lug.

Die twee het hul onderskeie lewenstraumas op dieselfde oomblik-in-tyd gehad. Breyten sy verhoor en tronkstraf in 1975/6 en Opperman sy beswyming in dieselfde tyd, feitlik die hele jaar gehospitaliseer deur drank en depressie.

Breyten het 'n nege jaar vonnis gekry en Opperman 'n tweede lewenskans. Sy ongelooflike familie het hom versorg terug na gesondheid om nog een keer - soos Simson in die Bybel - 'n ongelooflike kragtoer uit te voer, na 'n dekade se stilte.

Dit was die digbundel Komas uit 'n Bamboesstok, wat hy aan Breyten in die tronk gepos het. Daarmee het die twee mekaar gevind. Breyten het hierdie pragtige gedig geskryf

... kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

Langs mekaar gestaan was Breyten, in sy sel, die vry een: Opperman het kort na Komas breinskade opgedoen en vir die res van sy lewe in 'n koma gelê. Hy het gesterf drie jaar na Breyten se vrylating. Breyten, ten spyte van sy doodsangs en sy rebellie, het homself mooi opgepas - en is nogsteeds met ons.




VIR DIRK OPPERMAN, DIE 28STE OKTOBER 1979 - Breyten Breytenbach

enkel dae gelede jou boek in ontvangs geneem
(dank sy die owerhede)
en sommer intraps oorspoel deur die lewenskrag
uit die pragdom van catavina en konsertina,
die jukskeie se klap en soetigheid uit skede,
Herr von der Vogelweide, hoe jy die sin progeen
laat knetter en knot soos 'n ketter opgeskort,
jy die pole merk, ewenaars verwerk,
strome plotselings versterk, óór vul-k-ane swerk
waar kole rif -

dit op staande oog besnuffel, bevoel die gewig
gewrig en geweeg vanaf die om-slag van jou drifdigte gesig
al tussen-in tjoekie-tjoek van gedog tot gedig
beweeg tot in die vok-aal se innigste gestig
en verstom (!) plek-plek oor hoe uit die kabaal
van rommel en ramme
pluimprikkelend 'n gewisse heiliging straal-

(soms, ene muis, slegs oor geproe, geslyp
geintegreer, en was dan selfs in dié krokodillehuis
weer tuis, momenteel
     dronk van die vreugdedis
soos 'n maan in die tronk
hom aan water vergryp)

wat voor een rym en ritme
(wat rede en ruimte en roede is)!

si, certo, l'amore fa passare il tempo
il tempo fa passare l'amore

of iets dergeliks, maar jou is dit beskore
om die vore van die tyd te bevrug
met moersaad al hoe weser en syn-deurdronke:
ja, begeester deur jou prolegomena van knaat en peester
ai, sou ek ook vonk wil vang by die Oude Meester
en 'n eie Megumi-no-Sono ontdek

maar ook kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

daarom, beda doodverblinder,
vir al die wondere geskut in jou mou
('n taschenspieler se sekrete pywurms ontvou!)
vir die drif en die drang en soms droewige klank
met alle ontsag heel veel seer bedank,

en sterk staan, ou buffel, damstáán die dem pyn
karnuffel met jou kierietjies stééds die kluitwo(o)rd fyn!


Sondag, Januarie 07, 2018

Vergete Afrikaanse gedigte #1



as twee mekaar naak omhels
verander als:
liefde word vleis en bloed.
drome, eetbare vrugte, soet,
gedagtes werklike wyn en brood
op ‘n gedekte tafel, fyn
proebaar op die tong, slukbaar:
die rasendste honger verstil.

spoke word mense,
die hemel sprei ‘n sagte skadukombers oor hulle
en die sterre buig af en fluister ‘n deuntjie.
‘n brokkie van die ewigheid dryf los:
die absolute in die kontigente.
die gebroke kring,
twee helftes van ‘n sinkende boot,
verenig en raak weer vlot
met die blydskap van lied en word
aan boord,
van die verlostes uit nood.

die harde ysterstad
met sy betonhoed,
robotoë en asfaltbroek,
begin ekstaties dans
en al die sterwendes op weg na die graf,
gooi hul kiste van hul skouers af
en lag verbly
en selfs die geharde misdadigers, dood
en sy handlanger tyd,
staan voor dié heilige geheim
eenkant
swyend opsy,
hoed in die hand



-SJ Pretorius

Maandag, Desember 18, 2017

Sans Soleil

Ek het 'n eienaardige ding gesien. 'n Fliek uit die 80s met die naam "Sonder Son". Dis so verwarrend, ek weet nie eers waar om te begin nie.

Dit neem die vorm van 'n vrouestem wat vertel van die briewe wat sy ontvang het van 'n wêreldreiser genaamd "Sandor Krasna". Saam met hierdie stem verskyn beelde uit die strate van verskeie wêrelddele - meestal Japan, maar ook Ysland, Guineau-Bissau, Kaap Verde en San Francisco (waar hy in die spore van die fliek Vertigo reis).

Dis al.

Sans Soleil is interessant as 'n dokument van wat een mens kan vermag, sonder geld, sonder 'n agenda en sonder 'n tema. Dit is gemaak lank voor die Internet en sosiale media deur net een man met 'n film kamera, sonder enige klank.

Vroeg vroeg vertel hy van Sei Shōnagon - 'n Japanse vrou wat rondom die jaar 1000 - waarskynlik uit verveeldheid - lyste begin neerskryf het:

'n lys van elegante dinge 
'n lys van ontstellende dinge
dinge wat nie die moeite werd is om te doen nie
dinge wat die hart vinniger laat klop

Die lyste Sei Shōnagon (164 in totaal) was nie kuns nie, of wetenskap, filosofie of politiek nie - maar desnieteenstaande was dit iets uniek en waar - persoonlik, intiem en 'n dokument van haar tyd.

Haar lyste is jare later as The Pillow Book gepubliseer. Dit is 'n testament van die mag van magteloosheid - die munt wat geslaan kan word uit jou een oomblik in tyd en plek en persoonlike beperkings.

Is Sans Soleil - 'n duisend jaar na die Pillow Book - 'n moderne weergawe van dieselfde ding?

Ja dit is - maar wag eers.

In 1929 - lank voor Sans Soleil - het 'n filmmaker in die Sowjet Unie, Dziga Vertov, die idee gekry om een dag in die lewe van die nuwe kommunistiese samelewing te dokumenteer.

Vertov en sy samewerkers het deur die Sowjet Unie beeldmateriaal in verskillende stede geskiet van gewone mense wat opstaan, werk, reis, skoolgaan, rus, eet en slaap. Al hierdie materiaal het hy aanmekaargesit in 'n fliek met die naam The Man with the Movie Camera - 'n landmerk in filmkuns wat vandag as die grootste dokumenter van alle tye beskou word.

Vertov se idee was dat hierdie fliek 'n produk van baie mense sal wees - voor en agter die kameras - en daarom meer waardevol is as enige kunswerk wat deur een auteur beplan kon word.

In die laat 60s-70s het 'n groep Franse filmmakers die "Dziga Vertov Group" gestig met die idee om hierdie soort film te laat herleef, met wisselende sukses.

Teen die 1980s was die gevoel dat gewone mense "nie wil saamwerk nie", die soort waardigheid van Vertov se dae het nie meer bestaan nie, of het die filmmakers ontwyk.

In Sans Soleil sê die verteller

After circling the globe only banality still interest me.

Chris Marker se idee was dat waarheid in banaliteit "gevang kan word", en later: dat banaliteit spruit uit die verlies aan geheue.

Die helfte van Sans Soleil is in Japan geskiet, waar Marker homself laat gaan: how-I-learned-to-stop worrying-and-love-the seks, bygelowe, Pac-Man, game shows en horror van die nuuskierige-apie Japannese.

the more one watches Japanese TV, the more it appears to be instead watching you

Marker vryf sout in die wonde van super-ryk Japan, wat hul harakiri-vir-die-Keiser verruil het vir hierdie banale gemors lewe.

Die ander helfte is nog meer bitter:

Hy reis na Guinea-Bissau - 'n klein landjie in Wes-Afrika wat een van die kontinent se groot helde opgelewer het - Amilcar Cabral. Maar wat maak dit saak in die 1980s? Cabral is vermoor nog voor hy onafhanklikheid kon sien en wie gee om dat hulle die Portugese verslaan het?

History throws its empty bottles out the window

Marker fokus op die armoede van hierdie mense - fisies, maar meer nog die armoede van vergeet, van lewe sonder 'n geheue.

Die res van Sans Soleil is redelik kripties en onverstaanbaar vir my (insluitende die drie kinders op die pad in Ysland, waarna hy deurgaans verwys), maar dit pla my skaars.

Die lewe wag nie om met betekenis gevul te word nie, dit gaan net aan en aan.

Die motto aan die begin van die fliek is uit TS Eliot

Because I know that time is always time
And place is always and only place...
(And what is actual is actual only for one time
And only for one place.)


Sondag, Oktober 15, 2017

Mishima

Runaway Horses
Stel jou voor NP van Wyk Louw, of Breyten Breytenbach, voer 'n staatsgreep uit om die land oor te neem in die naam van skoonheid, kuns en tradisie.

So iets is werklik in Japan probeer, in 1970, deur hul grootste skrywer Yukio Mishima.

Mishima was reeds drie keer benoem vir die Nobelprys vir Letterkunde toe hy die bevelvoerder van 'n weermag kamp gevange neem en sy soldate probeer inspireer om die land vir die Japanese Keiser terug te neem.

Toe Keiser Hirohito - 25 jaar tevore - op 15 Augustus 1945 Japan se oorgawe oor die radio aankondig was dit die eerste keer dat gewone Japannese sy stem hoor.

In die dekade tevore het Japan 'n reusagtige ryk in Asië verower, so groot soos die hele Europa. Gewone Japannese het dit gedoen vir hul Keiser, wat letterlik God was - 'n skim wat bestaan het maar nooit gesien of gehoor is nie. 'n Eindelose stroom jong mans het tougestaan om hul lewe vir die Keiser op te offer.

In die laaste jaar van die oorlog was die skrif reeds aan die muur. Die Japanese regering het aangedui dat hul gereed is om oor te gee met net een voorwaarde - dat hul Keiser gespaar word.

Hierdie voorwaarde is verwerp deur die geallieerdes, wat beteken dat die voortsetting van die oorlog - insluitend die vernietiging van Tokyo, Hiroshima en Nagasaki - in werklikheid net ter wille van die Keiser was.

The Temple of the Golden Pavillion
Daar is 'n pragtige Russiese fliek - Die Son - wat gaan oor die ontmoeting tussen Hirohito en Generaal Douglas MacArthur van die Amerikaanse besettingsmag. MacArthur moes besluit wat om te doen met die verstrooide-professor Hirohito en het die mannetjie baie inskiklik gevind.

Die Japanese is toegelaat - na al die bloed wat gevloei het - om uiteindelik tog hul Keiser te hou. Hirohito is nooit gevra om te abdikeer nie en is nooit van enige oorlogsmisdade aangekla nie. Anders as sy trawante Hitler en Mussolini het hy in vrede tot die ryp ouderdom van 88 regeer, en sou op vele platforms saam met Koningin Elizabeth, Ronald Reagan en kie verskyn.

Net een klein dingetjie: hy moes sy Goddelikheid afsweer.

Daar is 'n mooi verbeelding in Die Son van hierdie oomblik: alleen in sy kamer sit Hirohito in 'n stoel, strek sy arms en bene uit en sê met 'n glimlag - "Dit is weg".

Vir Japanese soos Mishima was hierdie afswering 'n diepe verraad wat al die bloed van al die gestorwe soldate nietig gemaak het. Dit was die Keiser se verantwoordelikheid om die las van God-wees te dra. Dit het sin aan alles in Japan gegee. Hierdie "God is dood" oomblik het die sinvolheid van alles vernietig.

Kyoko's House
Mishima self was 'n enigma - diep tradisioneel maar wyd belese en bereis in die Weste. Hy was (in sy eie oë) 'n muis op skool wat deur ander kinders afgeknou is. As 'n grootmens het hy 'n obsessie met fisiese krag ontwikkel - hy was 'n gewigopteller totdat sy liggaam mooi en sterk genoeg na sy sin was.

Hy was heimlik gay en het 'n boek daaroor geskryf (Forbidden Colour), maar ook 'n familieman en fanaties konserwatief oor Japannese kultuur.

Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog begin skryf en Japan se voorste skrywer geword - a kamikazi for art - in sy woorde.

Maar hy het in twee wêrelde beweeg - woorde en dade - die pen en die swaard - vroulik en manlik. Sy droom was om hierdie wêrelde te verbind en te transendeer op een of ander manier - en hy het tot die slotsom gekom dat al die kontradiksies sal verdwyn in die oomblik van dood.

Na die mislukking van die "Mishima insident" in 1970 het hy rituele selfmoord gepleeg

Vyftien jaar na sy dood het Paul Schrader die film "Mishima" gemaak, wat sy lewe vergestalt saam met uittreksels uit drie van sy boeke. Dit is 'n uiters eksperimentele, maar lekker fliek.

In die segment oor die boek Runaway Horses, word 'n jong radikale student deur die polisie ondervra. Die student antwoord die pleidooie van "tone it down" met

-If purity is toned down it is no longer purity

-Total purity is not possible in this world

-Yes it is - if you turn your life into a line of poetry written with a splash of blood

-Calm down. Dying isn't everything, you know.

Ongeag Mishima se selfmoord het Keiser Hirohito die goeie lewe in God-se-stilte voortgesit, fanatici sien sterf in sy naam, sonder kommentaar. Anders as Mishima - die boom wat nie buig nie - was die Keiser uiters buigbaar na omstandighede.

Sy begrafnis in 1989 is bygewoon deur 200,000 mense, elke monarg wat jy aan kan dink, George HW Bush, Francois Mitterand en baie ander. Almal het gedink hy was wonderlik.

Onaangeraak, soos 'n God - 'n lewe sonder inhoud.

Donderdag, Oktober 05, 2017

Die blindheid van Sokrates

Die standaard storie is soos volg:

Chaerophon het vir die orakel van Delphi gevra of daar iemand op aarde met meer wysheid as Sokrates is - die orakel sê nee - Sokrates hoor die nuus en is verstom (want hy weet hoe min hy weet) - maar hy besef in tyd dat die orakel reg was - keer na keer, wanneer hy krap aan die oortuigings van ander mense, val hul stories uitmekaar.

Hierdie gekrappery is gedagte-eksperimente, die "Sokratiese metode".

Sokrates vra: wat is "kennis" of "liefde" of "regverdigheid" of wat ook al. Wanneer jy antwoord zoom hy in op voorbeelde wat jou definisie weerspreek en vra verdere vrae wat jou forseer om die definisie te verander, of te kwalifiseer, totdat jy moed op gee.

Die Sokratiese metode was die "soeke na waarheid". Die idee was om mense deur hierdie irritasies bewus te maak van hul eie onopgeloste geloofstrukture.

Hierdie dialoeë van Sokrates is na sy dood deur Plato neergeskryf, dit is die hoeksteen van westerse filosofie. Vandag se dekonstruksie is Sokrates-na-die-maal - dieselfde gekrappery aan stom en stilstaande teikens - idees, ideologieë, kunswerke, letterkunde - om die interne kontradiksies daarvan uit te lig.

In Plato se boeke kom Sokrates as ongelooflik intuïtief voor - meer vir wat hy vermy as vir wat hy doen. Natuurwetenskap het nie bestaan nie, maar Sokrates besef duidelik (2500 jaar gelede) dat hy nie hierdie metode kan gebruik vir bv "wat is die son" nie, en hy val nooit in daardie slaggaat nie. Hy bly by vrae rondom etiek en metafisika.

Hy besef ook dat sy metode net werk wanneer jy jou slagoffer kan beskaam - maw hom kan kry om sy definisie terug te trek omdat hy nie met 'n onverwagte implikasie daarvan geassosieer wil wees nie. Jy kan hom nie oortuig nie - hy moet homself oortuig.

Tot vandag toe word die venster van politieke debatte deur hierdie Sokratiese tegniek bepaal - politici bly by standpunte waarvan al die implikasies duidelik en veilig vir hulself is.

Sokrates het geleef in, en was 'n celebrity in die stad van Athene. In 399BC het die mense van Athene hom ter dood veroordeel vir godslastering en korrupsie van die jeug.

Danksy Plato is sy gesprekke vasgevang vir altyd. Niemand kan sê waar Sokrates eindig en Plato begin nie, maar tussen die twee van hulle het hulle die boek geskryf.

Dis die standaard storie.

Die lewe en dood van Sokrates en sy "soeke na waarheid" bevat vir my een van die diepste ironieë oor kennis and all that jazz.

Hy is gebore in die wêreld se eerste funksionerende demokrasie (Athene) maar volgens alle aanduidings het hy dit verag.

Plato se langste boek - die Republiek - begin met "wat is regverdigheid" en brei dan uit na die staat en wie moet regeer - wat is die "natuurlike staat" van mense. Lang storie kort, dis basies fascisme, met 'n heersersklas wat Plato "Guardians" noem, 'n staat waarin geen families en geen kuns toegelaat word nie. Wie regeer? Nie die massas of diktators nie, maar die filosoof-koning.

Dis moeilik om te glo dat al hierdie dinkwerk hierby eindig (maar waar).

Die boek speel af tydens die Sparta-Athene oorlog, en Sokrates & sy groep ryk jong bewonderaars is beslis aan die Spartane se kant.

Sparta het Athene vir 'n paar maande verslaan, maar nadat demokrasie herstel is is Sokrates aangekla en verhoor. Nugter alleen weet hoe ernstig die burgers van Athene oor hierdie hofsaak was. Uit 'n groep van 500 toeskouers is hy met 'n klein meerderheid skuldig bevind en die kans gegun om sy eie straf te kies.

Met absolute verwaandheid het hy voorgestel dat die "stad se straf" sal wees om hom vir die res van sy lewe van maaltye te voorsien, vir dienste gedoen. Dit was hierdie minagting wat tot sy doodstraf gelei het.

En dan, ten spyte van dit alles is Sokrates geleentheid gegun om te ontsnap, maar hy het hardkoppig geweier en in 'n traak-my-nie-agtige fuck-em-if-they-can't-take-a-joke houding sy laaste dag spandeer, en sy beker gif gedrink.

Wat ek bedoel met die blindheid van Sokrates is dit: terwyl hy gedink en gedebatteer het, was die groot antwoord, die groot waarheid, reg voor sy oë al die tyd. Dit was reeds gevind, is deur niemand gedink nie, dit het anoniem ontstaan deur 'n massa mense, waarvan nie een slim of wys was nie - en deur baie jare.

Demokrasie.

Die verdraagsaamheid wat sy mede-burgers teenoor hom getoon het, lewenslank en tot met sy verhoor. Ten spyte van sy lae opinie van hulle.

Reg voor sy oë, maar onmoontlik om te erken - want baie jare moes nog vloei onder deur die brug. Ons sien net een raampie in die film van wysheid - die een waarin ons lewe.

Sondag, Augustus 27, 2017

Dit of dood

Die ex-libris stempel wat Eugene Marais vir sy boeke versameling ontwerp het. Met die woorde "dit of dood" in die hoek. Wat op aarde wou hy sê?


Saterdag, Januarie 21, 2017

Die Kandidaat

Cobus Rossouw en die pasgestorwe Hendrik Verwoerd
Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was 'n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was eerste flieks deur jong kunstenaars (Jans Rautenbach en Orson Welles) met teater agtergrond maar weinig ervaring van wat 'n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en 'n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Citizen Kane gesien het

After this I have to go back to making those A-list movies again.

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat stap deur 'n gang vol moderne kuns in 'n raadsaal in waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag - die lewendiges en die dooies.

Is dit dan soos 'n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is 'n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog 'n kriminoloog wat probeer flieks maak  ;)

Jans Rautenbach was 31 jaar oud. Vyf jaar tevore was hy, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor 'n stigting wat Afrikaner belange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting 'n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 min verlaat die fliek hierdie vertrek en 'n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van 'n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat 'n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as 'n aggressiewe sestiger skrywer, Hermien Domisse as 'n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as 'n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus - die raadsaal en die verbeteringskool - is die haves en die have-nots van Afrikanerdom circa 1960s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en 'n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Regardt vd Bergh se eerste rol as 'n
probleemkind
Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk, sedes en taal (ek sidder wat Dr Verwoerd sou gedink het).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach 'n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak (met Nofal as regisseur)  - King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het 'n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het 'n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was 'n storm in 'n teekoppie maar het vir Rautenbach 'n idee gegee: 'n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner gewroeg maar 'n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer. Basta die ou Afrikaanse pastorale klein-dorpie fliek, hierdie sou 'n moderne, toekomsgerigte werk met visie wees.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premies vir 'n kommersiële fliek in die hande van 'n eerstekeer regisseur kan ek dit kwalik sien, maar die Gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was 'n enorme sukses: 'n lokettreffer, 'n mediasensasie en het - soos Citizen Kane - dadelik beweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het - les bes - 'n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60s het die 70s geword, en die 80s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy - die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as 'n oorweging uitsluit - is 'n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die her-kyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het - die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is - Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder 'n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos 'n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat - in triomf en later in stilte - sy geliefste film

want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer 'n eerste nie...